Die Here is groot, alle lof kom Hom toe, sy grootheid is ondeurgrondelik.
Psalm 145:3
Luister na die voorlesing:
Om te wees
Sy het in die agterste ry gaan sit,
maar toe sê hulle sy is teruggetrokke.
Sy het toe vooruit gelei,
maar toe is sy té betrokke.
Hulle het haar gevra wat sy dink
met hulle eie idees langs hulle sye.
Hulle het gesê sy is té luidrugtig,
maar was toe geskok deur haar stilswye.
Toe sy stil was oor haar planne
het hulle gedink dit is pateties.
So deel sy toe haar drome
wat hulle merk as onrealisties.
Hulle het gesê hulle sal luister,
maar hulle ore was verstop.
Hulle het haar aangemoedig om te probeer
en haar uitgelag toe sy flop.
Sy het hard probeer om te verander
in die persoon wie hulle soek…
Haar pogings was indrukwekkend,
maar ver van goed genoeg.
Sy was ‘n rapsie te min
óf heeltemal teveel
sy was té wys of té dwaas
té volwasse om te speel.
Sy was of té trots of té sagmoedig
of té sterk of té swak.
Sy was ysberg koud
of breekbaar sag.
Sy gaan sit toe langs die rivierstroom
om met haar Skepper te gaan praat…
Hy sê toe: My liewe kind,
kom Ék gee vir jou raad.
Ek het jou gemaak met net die regte hoeveelheid jy.
Jy is stil genoeg en hard genoeg
heelteMAL genoeg vir My.
Laat mense sê wat hulle wil sê
laat elk sy eie lewe leef.
Want jy dien My die beste
as jy is wie jý moet wees.
En hier in U teenwoordigheid
voel ek vry om net te wees.
©️ Leané le Roux
Deel gerus met familie en vriende of op jou sosiale media….
Bladsy url: https://www.rethinkingfamilies.com/weesnet-leane
of gebruik die sosiale media knoppie hieronder…
Jy is baie welkom om terugvoer in die kommentaar afdeling te gee.
