"Ongeloof loop uit op ‘n hoop’lose einde; geloof loop uit op ‘n eindelose HOOP”
Gilbert Brencken
Luister na die voorlesings:
"Hierdie hoop besit ons as 'n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is."
HEBREËRS 6:19 (AFR83)
My Pakkie
(“Wat kon Ek doen, my kind, jy wou dit nooit laat los?”- Anoniem)
“Here, ek het U dan gevra om ons te help met
ons geldsake wat kommer oor my bring,
want aan die end van ons geld sal ek vind
dat die maand nog nie ‘n einde het.”
“Ek het geglo dat U die saak sal oplos altemits,
want U is almagtig, wys en goed, maar moes
dieper en dieper wegsink in die smeltkroes.
U wyse om ons te snoei, maar nie in ‘n kits.”
Toe sê onse Doom, u vriend en so ook myne,
ons moet ons pakkies bring, ons seer, ons rou,
en dit neersit by die kruis, u voete, soos nou,
en so ontslae raak van ons kommer en pyne.
Ewe kordaat stap ek die trappe op na die kruis
daar op die verhoog reg voor in onse kerk.
En kniel voor U, my siel is rou, my hart onsterk,
en my trane val op daai kruis se voet – druppelsgewys …
“Hier is my pakkie, Heer, ek kan net nie meer
dit dra, dis vir my skouers te swaar, die las.
‘Seblief, Heer, vat dit, daar lê dit, dis my las,
en was my tog skoon met u bloed, o Heer.”
“Die anderdagmôre kom die kommer weer t’rug,
en ek wis ek het ‘n mosie van wantroue gestel
in die almag wat onder Gods alwyse bevel
die Satan laat spaander, laat slaan op die vlug!”
“Want wat doen ek nou met my pakkie, Heer?
‘Wag, gee dit t’rug, ek sal self’, sê ek vies,
‘lyk my U het van “nee” hieroor gekies,
lyk my U het my ook nie meer lief, o Heer.’”
“Wat kon ek doen?”, hoor ek U sê, “my kind,
jou pakkie, daardie kommer, daardie seer,
wou jy net nooit los, en jy wou ook nie leer
dat jy by My volkome rus en vrede sal vind!”
“Here, vergewe asseblief vir hierdie my
dat ek U nie kon vat op u Woord, soos Jesus.
Ja, ek het my deerlik en totaal misgis
met die eind’lose hoop en vrede by U te kry!”
© M’Hennie
18 April 2010
Deel gerus met familie en vriende of op jou sosiale media….
Bladsy url: https://www.rethinkingfamilies.com/my-pakkie-mhennie
of gebruik die sosiale media knoppie hieronder…
Jy is baie welkom om terugvoer in die kommentaar afdeling te gee.
