Dwaalspore – M’Hennie

Dwaalspore2 for Wired & Well © copyright

Soms, as dwase jeug, dwaal ons spore in verkeerde rigtings in. Ons val hard oor ons eie keuses. En dis juis dan (met so val) wat ‘n moeder se rigtingaanwysings ons hard en duidelik terug roep…

Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

Luister na die voorlesing:

Dwaalspore

Dit skrei ten hemele in Gomorra!
Sodomiete wat mekaar betakel en behoer!
En so gaan Satan se kind, die groot Gogga,
ook vir jou om die kafee se hoek lê en loer….

Jy dool rond op Saterdagaand se strate en stege.
Jy baljaar in ‘n dolle rinkink onder skelle ligte,
en trag dié Sondag dan, vergeefs nog na nege
‘n slapie te vang wat in vorige nag se skigte
jou bly ontwyk het soos skadu’s en skimme.
‘n Nag van drank en dobbel en halusinasies,
van masturbasie en seksasies en skrille dim-dimme,
van musiek met magte van Bose in hul stim’lasies….

Hulle jaag jou rond, die bose goed van Satan se huis,
in jou onrustig en koorsige dronkmansroeseslaap….
En jy wil wegkom van dié klomp Duiwelse gespuis,
maar jy ruk net en sweet en prewel in droom en onrusslaap…
En as jy daarna ontwaak, papnat gesweet, met ‘n kop
wat Seer se Ouboeta het gaan haal by Bo’jaan se bult,
wat klop in jou oordromme en oor jou siel dit bloots galop,
dan weet jy met felheid en boete: “Dis al’s net my eie skuld!”

Jou arme kop, ‘n warboel van ligflitse, skimme en einaseer!
Jou buik, ‘n krioelende mengelmoes wat roep om braak!
Jou bene, net knakkende knieë; jy moet teen die gangmuur keer!
Jou siel, rougeskaaf – om hy vergeefs probeer om te traak…..
Nou begin verwyte en vloeke opstapel van hier binne
en breek los soos wat ‘n damwal van watermassa breek!
Jy tier in helgeblaakte woorde en kort koorsige sinne.
Dis asof ‘n dolk van vooraf reg in jou siel in steek!

Die kamtige paap het in jare nie my Pa gesien, wat nog vir my.
Wat weet hy van my sielepyne, wroegingsleed en soek’ry?
Wat weet hy hoe ek elke dag met Satan en God moet baklei?
Wat sê hy as ek in ‘n oomblik van swakheid vra: “Doom, bid vir my?!”

Dan onthou ek vaag wat Ma my eens het geleer –
eens – met ‘n skoon kindergemoed – ag so tenger teer:
“My kind, hou vas aan jou geloof in God, dis mos Hy
van wie jy krag om te glo, te vergeef en ook liefde kry.
Krag om te los wat Satan in jou wou kom plant…
Krag om vas te hou aan Sy sterke regterhand!”

Dan sug ek dit uit: Mamma bid vir my…..

© M’Hennie
20/7-14/8/2000

Deel gerus met familie en vriende of op jou sosiale media….
Bladsy url:
https://www.rethinkingfamilies.com/dwaalspore-mhennie/
of gebruik die sosiale media knoppie hieronder…
Jy is baie welkom om terugvoer in die kommentaar afdeling te gee.

1 thought on “Dwaalspore – M’Hennie”

  1. Weereens besef ek wat ‘n diep en wonderlike gedig dit is. Dit herhinner my so baie aan my jong lewe in die weermag, toe dinge maar rof gegaan het, maar God het my deur dit alles nooit gelos nie.
    Dankie Oom Hennie vir ‘n wonderlike gedig wat hart en siel raak!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top