Leuenwasem – Margaret Bennett

Leuenwasem for Wired & Well © copyright

"En wat julle ook al sê of doen, doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom"

Luister na die voorlesing:

Leuenwasem

daar is ‘n droom wat ek steeds moet droom
‘n merk wat ek nog moet maak
as ‘n wolk klaar gereën het
is dit dood
terwyl beloftes gesaai lê
in modders van hoop

as elke mens vandag die vermoë verloor
om te jok
alle leuenskille sou afval en oopbreek
waarna sal jy en ek staar
hoe sal ons verlede, en vandag, lyk
en ruik
jou eie “waarheidsoomblik” se naaktheid
selfs jou binnekantleuens
spieëlbeeld sissende feite

ek kyk na die wêreld rondom my
die klaterskille binne my
skaamvol sien ek goeters deurskyn
wat ander oopmond sou laat staar
soos ek na ander staar …

die leuen lééf in elkeen van ons
saam die waarheid wat boontoe dors
oordeel sál tog eendag fel
tot volmaaktheid medaljeloos
maar Kruisvol, deursigtig triomfeer

as die son ondergaan,
daal dit in waarheid na rus
geen leuen in maan se straal
geen oordeel in ster se flikker
maar ek en jy loop leuenagtig, bevooroordeeld met voorgee rond
tot Sy aangesig eendag skaduloos skyn …

hoe sal ek lyk
hoe sal jy lyk
hoe sal wêreld lyk
sonder leuenkleurklere …

© Margaret Bennett

Deel gerus met familie en vriende of op jou sosiale media….
Bladsy url:
https://www.rethinkingfamilies.com/leuenwasem-mb
of gebruik die sosiale media knoppie hieronder…
Jy is baie welkom om terugvoer in die kommentaar afdeling te gee.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top