Drukkie Taal – Margaret Bennett

'n uit-die-hart gedig...

Drukkie Taal for Wired & Well © copyright

Luister na die voorlesing:

Laat die kindertjies toe en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.

Drukkie Taal

Ek sit op die nuwe stoepie op die wit stoel.
Die wind waai en die pas geplante
grassies steek plek-plek kop uit.
Ek verlang my kitaar.
Die een wat op die kas lê en stof vergader.
Hoeveel note het ek al daaruit gehaal?
Wysies en stem, krom en skeef, maar dit was uit die hart.

Ek sien jou klein warm een-jarige lyfie.
Wie het jou liefde geleer?
Wie het jou armpies geleer om drukkies te gee.
Jou mondjie om taai te soen …

Agter die muur speel ‘n klein kindjie.
Ek ken hom nie, maar ek ken die klank
van genot as die stemmetjie speel saam die lyfie.
Ek wonder hoe hy regtig lyk.
Kan hy ook drukkies gee?
En wie het hom liefde geleer?

Terwyl ek wonder en luister na die wonderwerkie,
vloek-skree sy pa op hom.
Onmiddelik skiet die trane in my oë
toe die liefdesklankies verander in vreesgille.
Tussen die hartseer ek-verstaan-nie uitroepies,
hoor ek die kinderlike opregte behoefte
vir genade deur kinderstemklankies…

“Toemaar Baba”,
“Toemaar…”,
“Toemaar Baba”, huil ek saam.
Trane loop oor my wit hemp …

Later, toe ek weer kon asem haal
en die klitsgras van die pa se woorde
versag in my geheue, wonder ek weer
oor myself en jou genade treëtjies:

Staan ek genoeg by jou stil?
As jy my so direk in die oë kyk en brabbel-brabbel,
luister ek diep genoeg?
Sal my asem in jou vassit
as ek eendag huistoe gaan
en jy jou pad alleen moet loop?
Druk en soen ek daai babavet lyfie genoeg,
terwyl ek nog kan?

Miskien moet ek elke dag
net een keer meer vir jou sê: “ek is lief vir jou.”
Net ‘n rukkie langer saam jou storieboek lees.
Meer blasies blaas in die bad.
Blomme pluk in die veld.
Diere geluide namaak met snaakse gesigte wat jou laat lag.
Sommer-net oomblikke in jou wese laat rus.

Dalk…, as ek nou bietjie meer moeite doen.
Dalk, as ek elke dag bietjie meer belê in jou gees.
Net dalk sal jy eendag die kindjie langsaan,
se handjie kan vat en hom leer
dat drukkies sterker is as vloeke.
Dat sagte woorde soveel hoër groei as skel en agressie.
Dalk, is jy die een wat hom wys op Die Liefde.

Ek hoor die kindjie weer huil.
Sy pa se woorde wat selfs my hart ruk.
Ek verstik in wanhoop.
En hoop….
                   dat ‘n pappa se hande sal sag raak.
Dat sy hart sal oopgaan
en hy drukkietaal sal praat.

My kitaar is vergete.
My stemnote sny oor die muur:
“Jesus loves you this I know”.
Ek sing vir my baba,
vir baba agter die muur.
Ook vir pappa.
En vir Abba ..

My stem swanger met drukkie-taal.
                                                              “for the Bible tells me so…”

© Margaret Bennett
15/10/2025

Kinders is 'n gawe van die Here; die vrug van die moederskoot is 'n beloning.

Deel gerus met familie en vriende of op jou sosiale media….
Bladsy url:
https://www.rethinkingfamilies.com/drukkie-taal-mb
of gebruik die sosiale media knoppie hieronder…
Jy is baie welkom om terugvoer in die kommentaar afdeling te gee.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top