Voëlvry – Odette Karsten

Voëlvry for Wired & Well © copyright

Luister na die voorlesing:

Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie.

Voëlvry

As die Kaapse Kaaitjiepiering oor jou kop vou
en die sonlig vir oulaas oor jou skouer loer.
As die Kershout aan jou sy stut
en die varing skraps die boepens van jou kuit kielie.
As die vars lug jou deurtrek
en die boomwortels soos spinnekoppote
bo die grond uit pronk.
As jou hart tevrede klop
en alles wat was,
word tussen boom en bas agtergelos.

Net soos die goudgeel herfsblare
op die vloer van die woud,
in kompos sal verwerk word
en getuig van seisoene se gang.
Stap jy winter binne
en ek hoop jy is beskut
teen die snerpende kou,
wat jou asem in wit stroke laat hang.

Dan het jy gewandel en gewonder,
gedink en oorweeg of selfs opgeweeg,
wat werd is
en wat sinloos is om oor te redekawel.
Dan voel jy vry, voëlvry.



©️ Odette Karsten

Deel gerus met familie en vriende of op jou sosiale media….
Bladsy url:
https://www.rethinkingfamilies.com/voelvry-odette-karsten
of gebruik die sosiale media knoppie hieronder…
Jy is baie welkom om terugvoer in die kommentaar afdeling te gee.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top